Abstract:
In hierdie artikel fokus ek op die navigasie en onderhandelinge van ’n Generasie 1.5-student in haar strewe om ’n sin van verbintenis op ’n diverse kampus te verkry. ’n Sin van verbintenis word verbind met die mate waarin studente verbind voel en aanvaar word binne die kampus gemeenskap. Die studie word gerig deur die sentrale navorsingsvraag: Hoe dra die ervaringe van ’n Generasie 1.5-student in hoër onderwys by tot die strewe na ’n sin van verbintenis? Refleksiewe skryfoefeninge en semigestruktureerde onderhoude is gebruik om data van een Generasie 1.5-student te versamel. Met behulp van die narratiewe metodologie is die deelnemer se ervaringe aangaande haar strewe na ’n sin van verbintenis verken. Die deelnemer se gemeenskapsruimte en universiteitskonteks het haar tussenin-identiteit tussen twee wêrelddele (Londen en Noord-Kaap) vasgevang. Yuval-Davids (2006) se vlakke van verbintenis, Maslow (1970) se vlakke van behoeftes, asook die identiteitsteorie van Erikson (1968), Tajfel en Turner (1979) en Bhabba (1994), is as teoretiese lense gebruik. ’n Induktiewe tematiese ontleding het die temas in die data uitgelig. Die data word aangebied onder die volgende temas: skakeling van taal en ras in die strewe na ’n sin van verbintenis; emosionele ervaringe in die strewe na ’n sin van verbintenis en navigasie van ’n sin van verbintenis deur gedeelde waardes. Die ontleding van die data toon dat ’n Generasie 1.5-student se globale en plaaslike kennis bydra tot meertaligheid en meerkulturaliteit. Generasie 1.5 se hidriede identiteit maak die strewe na
’n sin van verbintenis op ’n diverse kampus moontlik.